|
Audio Sermons
Audio music
Text Sermons
Visitor Info
Outreaches
Choir
Confession
Articles
Links
Education
Ministers
Map
Photos
History
Cassette
Europe
Self-help
Internet
Faqs
HOME
| |
Aktiwiteite te KwaSizabantu Sending
AGTERGRONDSGESKIEDENIS:
Dit was teen die einde van die jaar 1966 dat die sendeling Erlo Stegen na 12 jaar van
sendingwerk onder die Zoeloes, aan die einde van homself gekom het. Met 'n diepe verlange
en soeke na die volheid en krag waarvan ons in die Bybel lees, het hy daagliks saam met 'n
groepie Christene te Mapumulo bymekaargekom vir tye van gebed. Hulle het hulself in die
lig van God se Woord gestel en Sy aangesig gesoek vir die sleutel na 'n lewe waarin God
kan werk soos Hy wil, 'n lewe van oorwinning in plaas van een van kragteloosheid en
neerlaag. Na 'n tydperk van intense verootmoediging en loutering, waarin hulle gereinig is
van dit wat skeiding maak tussen 'n mens en God, en 'n mens en sy medemens, het die Here
die hemele geopen en met groot krag begin werk (Jes. 64:1).
Die resultaat hiervan was onmiddellik sigbaar: van ver en wyd het die Here mense in nood
na Mapumulo gebring vir hulp, mense vasgevang in sonde en gebind deur kettings van satan -
hekse, toordokters, besetenes, om maar net 'n paar te noem. Sommige van hulle, selfs
sonder dat enige iemand met hulle gepraat het, was bewus van hulle verlore toestand, en
desperaat om deur die krag van die Here verlos en vrygemaak te word. Binne die eerste week
nadat die Herlewing begin het, het daar meer gebeur as in die vorige 12 jaar van verbete
en ononderbroke harde werk. Strome van lewende water het begin vloei!
Ons dank die Here dat die rivier wat destyds (nou meer as 30 jaar gelede) begin vloei het,
deur die jare sterker en dieper geword het, en ook uitgebrei het in ons land en na vele
lande oorsee, oor al die kontinente heen. In 1970 is daar begin bou op KwaSizabantu (die
Zoeloe woord vir "die plek waar mense gehelp word"), waar die sentrum van die
Herlewing vandag is. Daar is reeds slaapplek vir oor die 7 000 mense in 'n groot
verskeidenheid van slaapkamers, rondawels en woonhuise. Daagliks stroom mense vanuit
verskillende nasies, rasse, tale en agtergronde na KwaSizabantu met 'n verskeidenheid van
probleme en behoeftes: sommige soek hulp vir geestelike en sielkundige probleme (bv.
depressie, gebroke huwelike en huisgesinne, alkoholisme, dwelmverslawing, ensovoorts).
Misdadigers en moordenaars kom om hulle saak reg te maak met God. En vele andere kom vir
geestelike verryking, vir 'n ontmoeting met God.
KONFERENSIES
Gereelde konferensies word in die ouditorium wat tot 10 000 mense kan huisves, gehou, So
byvoorbeeld word twee maal per jaar vir ongeveer 8 000 kinders en jong mense, vir
volwassenes en die jaarlikse KwaSizabantu Predikantekonferensie, waar 'n duisend predikers
vanuit verskillende denominasies rondom die Woord van die Here vergader.
Verskeie OPLEIDINGSFASILITEITE is op die been gebring, waaronder 'n skool, onderwyskollege
en skool vir volwasse opleiding.
SELFVERSORGINGSPROJEKTE:
Die Sending poog so ver moontlik om selfversorgend te wees. Om in die fisiese behoeftes
van werkers en besoekers te voorsien, is daar 'n groot verskeidenheid boerderybedrywighede
aan die gang op die sendingstasie. Behalwe vir beeste, hoenders, groente en vrugte, is
daar ook 'n heuningboerdery, noedelfabriek, pottebakkery en konfytfabriek. 'n Melkery
verwerk melk tot 'n verskeidenheid melkprodukte soos joghurt en maas. Wat nie vir eie
gebruik nodig is nie, word verkoop en met die geld kan dinge aangekoop word wat nie self
geproduseer kan word nie. 'n Bakkery voorsien al die brood wat nodig is en verskeie
werkswinkels doen die elektriese reparasies, loodgieters-, hout- en motorwerktuigkundige
werk van die sendingstasie self.
EVANGELISASIE:
Ook word talle uitnodigings ontvang om die Evangelie in verskillende węrelddele te
verkondig, om "dissipels te maak van al die nasies..." (Matt 28:19), "tot
in die uithoeke van die węreld..." (Hand 1:8b).
"U GROOT DADE, HERE,
HET MY BAIE BLY GEMAAK;
EK WIL JUIG
OOR WAT U GEDOEN HET."
(Psalm 92:5)
Intussen is daar die
volgende bykomende aktiwiteite en uitbreidings op KwaSizabantu:
1. RADIOSTASIE:
Radio Khwezi (die Zoeloe woord vir "Môre-ster") het in September 1995 begin uitsaai op 90.5 FM
en dek die grootste gedeelte van KwaZulu-Natal. Ons saai tans ook op 107.7 FM uit,
en wel in Afrikaans, Zoeloe, Engels en Duits. 'n Groot hoeveelheid onderwerpe word
gedek, naamlik oordenkings, dienste, musiekprogramme, kinder- en jeugprogramme, programme
vir bejaardes, vir vrouens, algemene opvoeding asook opleiding (byvoorbeeld om Engels en
Zoeloe te leer praat), ens. ens. - 'n bietjie van alles en nog wat om ons luisteraars op
te bou en toe te rus om as Christene sout en lig in hierdie węreld te kan wees.
2.
OPLEIDINGSFASILITEITE:
Dit het intussen geweldig uitgebrei en bevat die volgende:
a) 'n SKOOL,
Domino Servite Skool (wat beteken: "Dien die Here") is in 1986 begin en is
daarop gemik om kinders 'n Christelike opvoeding te gee. Dertien grade word aangebied,
naamlik vanaf Graad 0 tot met Matriek. (In Graad 0 leer al die kinders vanuit al die
verskillende taalagtergronde net eers almal 'n gemeenskaplike voertaal, naamlik Engels -
die moedertale van die kinders wissel van Zoeloe, tot Engels, Afrikaans, Sotho, Duits en
andere.) Alhoewel leerlinge nie volgens akademiese vermoë gekeur word nie, het die
skool nogtans deur die Here se genade reeds vir die afgelope 13 opeenvolgende jare 'n 100%
slaagsyfer in Matriek gehad.
b) 'n
ONDERWYSKOLLEGE, Cedar Training College, wat daarop gemik is om goeie kwaliteit
onderwysers op te lei wat op hulle beurt weer die boodskap in die onderskeie skole waar
hulle werk, kan verder dra. Die eerste studente het aan die einde van 1997
afgestudeer.
c) 'n SKOOL VIR
VOLWASSE OPLEIDING, Tabitha Adult School, waar ongeletterde volwassenes wat nooit die
geleentheid gehad het om te leer lees en skryf nie, nou leer om die Bybel te lees en te
skryf. Kursusse in Engels, Zoeloe, Afrikaans en Duits word ook aangebied, asook
basiese vaardighede in rekenaargebruik, kookkuns, naaldwerk en motorbestuur. Alles
daarop gemik om Christene toe te rus om 'n voorbeeld en goeie invloed in alles sfere van
die lewe te wees.
3.
PREDIKANTEKONFERENSIES:
Hierdie jaarlikse Konferensies is interkerklik en word deur predikers vanoor die hele land
sowel as baie oorsese lande bygewoon en toegespreek deur plaaslike en internasionale
sprekers.
4.
SELFVERSORGINGSPROJEKTE:
Ons het ongeveer 25 verskillende selfversorgingsprojekte, wat gedurig uitbrei soos wat die
behoeftes groter word. Dit is deel van die sendingwerk aangesien dit in die eerste
plek daarop gemik is om in die behoeftes van ons en ons besoekers te voorsien. Ons het 'n
hele aantal kweekhuise (glas en plastiek) waar 'n verskeidenheid gespesialiseerde groente
geproduseer word - in die eerste plek vir gebruik op die sendingstasie en wat ook verkoop
word om fondse in te bring. Onlangs is ook met 'n waterbottelingsfabriek begin nadat
geboor is en water van 'n besonder hoë gehalte gevind is. Hierdie water word onder
die handelsnaam aQuellé bemark.
Die hoofsaak en klem van
die Sendingstasie is steeds die VERKONDIGING VAN DIE EVANGELIE. Daar word daagliks
dienste vir die besoekers en werkers gehou, en predikers reis landswyd en ook węreldwyd
(letterlik na al die kontinente) om skole, kerke, konferensies, ens. op uitnodiging toe te
spreek.
Daar is 'n hele aantal
boeke oor die sending geskryf, onder andere dié van Dr Kurt E. Koch, "HERLEWING
ONDER DIE ZOELOES", en van Prof M.C. Kitshoff in samewerking met Ds H.E.
Basson: "AS DIE VUUR KOM: DIE VERHAAL VAN KWASIZABANTU".
Enige iemand is baie
welkom om hier besoek te kom aflę.
Terug na Afrikaanse Artikels
| |





|